SLAKKEPAS

Vertrek

Die Fortuner se luikrugsensor is nie gelukkig met die twee kartonhouers wat halfmas uithang en die rooi nylon tou wat alles bymekaar moet hou nie.

Ons is op pad na Johannesburg lughawe vir ons derde fietsreis.

Dié keer trap ons ‘n paar skofte langs die Weskus vanaf Bloubergstrand, via Yzerfontein, Langebaan en Jacobsbaai na Paternoster.

Maar, eers moet ons betyds wees vir Airlink se vlug na die Moederstad en ons dogter se kêrel se moeder karwei ons soontoe.

In die weke vooraf is die kartonhouers gemeet en geweeg en alle aanduidings was dat die fietse en bagasie sal pas.

Toe nie.

Tyd vir ‘n waentjie huur of ander planne is daar nie en nadat ons foto’s van die vrag neem, dwarrel ons lughawe toe.

Teen die wind in vra ek Frieda wat ons besiel, kap ons nie ‘n dik boom met ‘n klein byltjie nie, maar my woorde waai weg.

Ons hoor toenemend woorde soos My Oom en Tannie, tekens dat ons verder van die vyftigs af beweeg en ons het begrip. Ons het kinders groot gemaak, laat leer, van hulle getrou en verwag ons eerste kleinkind.

Die gemeenskap verwag ook van middeljariges ‘n portuurpatroon, ‘n dekorum en ons hoor al daarvan by Cicero se jong gespreksgenote 44 jaar voor Christus.   In daardie jaar, toe Julius Caesar die gees moes gee, oortuig Cato die Ouere in De Senectute die jongeres dat ouer word voordele het soos: ervaring, geduld, goeie vriendskappe en ‘n sopie wyn wanneer jy wil.  

Ons is nog nie hééltemal daar nie, want geduld skiet tekort, veral wanneer ons soos bulle uit Pamplona met kartonhouers wat oor die trollie weglê ‘n pad na die lugredery oop kloof.

Ek moet my hoed lig vir Airlink se personeel; die fietse is deel van die bagasie en tot tien fietse kan op die Embraer E-Jet 195 / B737 gelaai word.  Met ‘n vorige redery het ons skade gely, toe moes ons deur Helshoogte en verby Pniel voordat ons op Franschoek ‘n ratskyf kon reguit buig.

Hier is dit anders, hier is begrip vir fietsers en in plaas van stres krop die opwinding.

Nuwe horisonne en nuus oor die swangerskap voer ons die hoogtes in en in vlug sou die kinders iewers in Pretoria ‘n sonar neem, laat weet of alles goed gaan en of ons vir ‘n kleindogter of kleinseun gereed moet maak.

Toe Tafelberg in die venster kantel en ná die rukwip op die aanloopbaan kruie ons verby antennas en stoppelgras.  Ons is net duime en boonop is ons Skoondogter ‘n terggees wat ons om die bos lei.

Die tweede boodskap trek die sluier weg en terwyl ons met ons koppe bymekaar na die kloppende hartjie luister, wink die toekoms in swart en wit.

Uber laat weet dat ‘n ekstra groot voertuig om die draai is en dat Thakirr ons kom haal.

Ons slaag daarin om die bagasie en die fietse te laai, maar daar is net plek vir een passasier. My bruid moet op haar eentjie ry.

Op pad vertel Thakirr van sy Pa se geëelte hande en die familiegeskiedenis.  Antonie se gat anderkant Calitzdorp is deel daarvan.  Antonie, lees ek later, het die owerhede met ‘n roer gedwing om ‘n pad en brug oor sy plaas te bou en deesdae gaan mense daarlangs om Antonie se ysere wil te bewonder.

Ek luister met ‘n halwe oor terwyl ek my wederhelf Whatsapp: ‘Waar is julle nou? Neem foto’s!’

Thakirr ry ‘n ander pad.

Vroue met honger oë staan op straat en op ‘n hoek kring manne om ‘n paar bottels terwyl ‘n bebaarde bo-oor die flitsende vangwa vloeke spoeg.

Tussen die tonele flits foto’s: Tafelberg, ‘n betonbrug, drie Palmbome, en ‘n lemoenson wat agter vragskepe in die baai sak.  Van iewers stuur sy beelde van presies waar sy is.

Na Silwerstroom

Komoot se roete kronkel na Melkbosstrand en verby Koeberg na Silwerstroom. 

Die vorige aand by ‘Laid Back Lapa’ het Kerry ons met sorg ontvang.  Na die afpak is die fietse aanmekaar gesit en terwyl die swart huiskonyn aan die rooi Ortliebs snuffel, weeg en balanseer ons, ons blyplek, kombuis en gereedskap vir die volgende 10 dae.

Kaapstad doen goed.

Hier klop ‘n pols vir fietsers en van Bloubergstrand tot in Melkbosstrand strek ‘n breë fietspad tussen seë en land. Kol-kol lê die sand bleek tussen die donkergroen bossies en daartussen bloei Disas, Gousblomme en Reëndaisies.

Seë se kant toe kras Gryskopmeeue en tussen die duine fladder en roep  ‘n Swartvlerkkorhaan.

By Melkbosstrand draai die roete na die R27 en anderkant Koeberg sou ons vir ʼn rukkie kuslangs ry, maar Covid het sy merk gemaak.  Die afdraai is gesluit en anderkant die zoemende kabels strek die R27 na Silwerstroom.

Van die onguurste nagte het ons daar beleef en die volgende oggend met ‘n swaarbewolkte gemoed, pofferige oë en reën van voor suiker ons na Yzerfontein.

Met ons nooiensvaart in Nederland en Duitsland vyf jaar gelede was ons verwonderd oor die fietskultuur en het later ontdek dat nóg reën, nóg wind en sneeu ‘n remblok vir Nederlanders is. Húlle is nie van suiker gemaak nie.  Ons het toe ook kennis gemaak met Knoopkaarte en die Eurovelo-netwerk.

Laasgenoemde se roetes kriskras van Denemarke na Georgië, oor wolk bedekte plato’s in Spanje,  tussen Bordeaux se wingerde en langs die Ryn.  Ons  het toe die Eurovelo 10 gevolg en droom al om saam met Claudio Magris langs die Donau spore te maak of met Adventure Cycling  se kaarte saam met Swaer en Sus gletsermere en dennewoude in Banff en Oregon te verken.

Chat GPT bereken dat die valuta van fietstoerisme internasionaal 116,73 biljoen dollar beloop dit is R1,750,950,000,000.00. ‘n Bedrag waarmee selfs politici tevrede behoort te wees, of hoe sê?

In vergelyking met Europa en die VSA is ons groentjies,  soos ek en Frieda, maar daar is ervare fietsreisigers wat die horisonne uit pen. Reisigers  soos Johan Wahl van a.whale.away wie se SAND roete deur die internasionale bikepacking.com platform gepubliseer is en Bicycle south en Cape  Cycle Roetes is ook besig om speke te laat sing.

Yzerfontein.

By die Sport- en ontspanningsklub  op Yzerfontein laat ons die staalperde vasgeketting in die Munisipaliteit se kampeerterrein en geniet ‘n pluspunt van fietsreis: gewetelose kalorieë. ‘n Reuse burger, duimdik skyfies, yskoue vatbier, ‘n wit strand en bruisende golwe rond die dag af.

Iemand se 70 jaar word langsaan gevier en dat hulle vir haar lief is klink in die hiep-hiep hoera’s en die gewoel van kinders en kleinkinders.

Ons volgende skof strek van Yzerfontein, deur die Weskus Nasionale park na Langebaan.

Dit is ‘n soeldag en die wind waaier om ons. ‘n Entjie vorentoe peil ‘n arend op die pad af en ons trap verby morseltjies – dalk ‘n Musseljaatkat.  Platgetrap, soos die uiltjie ‘n entjie terug; net ‘n handvol vere.

Die motors skel verby en na ‘n 18 kilometer draai ons dankbaar links na die Weskus nasionale park waar ons pligtelik tussen ‘n nutsvoertuig en Taxi voor die suidelike hek wag.

Op die min of meer 28 km na Langebaan treusel ons en hou stil vir skilpadjies en vygies, staar oor die duine en snuif die seelug, tuimel teen afdraandes en speel met die ratte teen die oppies, terwyl suikerbekkies piep en Korhane roep. Nou en dan klap ons ‘n steekvlieg kaduks.

Met die terugtog ‘n paar dae later sou ons vroegoggend op ‘n koel en bewolkte dag ‘n ander kant sien van die pad.  Spinnerakke wat om stingels drup; sommige sferies, ordelik en ander gestikte chaos.

By Geelbek voël uitkyk, sluk ons onder bloekombome aan ‘n proteïen skommel, kou energie stafies en smeer sonbrandmiddel. ‘n Patrys spring nuuskierig op, fynkam die tafel en spring af toe twee jong dames nader stap; een is opgewonde en die ander een stil, terughoudend.

Die fietse met goetertjies en toetertjies trek aandag en sy vertel van háár tog, agt dae lank en stoksielalleen deur die Sederberge. Sy wil ander paaie ry,  saam met die stil enetjie.

Langebaan

Langebaan is om die draai. Tot dusver het ons langsaam getrap, maar net anderkant Geelbek trap Frieda stadiger en hou stil.

Die agterband  is pap; vir ‘n tweede maal. Ek is sommer dwars en Frieda stil.  Ons pak af, dop om, plak en pomp.

 ‘n Paartjie hou stil en laat weet hulle het ‘n ‘compressor’ en op my binnensmondse ‘Fenk you. Wiir fine’,  antwoord die jongman, ‘Goed, Oom!’ en ons knik vir mekaar.

Van hier af vlot dit en voor ons lê ‘n wit sandsoompie lepel met die blou-groen meer en vertes.  Ons haal diep asem, wag ‘n rukkie saam met die eeue en luister na die geruis.

Langebaan is nou ‘n katspoegie ver en die binneband hou.  

Komoot teken grafieke, vertoon kilometers afgelê en kilometers wat voorlê en die hoogtetjie wat wag.  Soos met Franschoekpas, die Hemel en aarde roete van Johannes Georg Steytler stap en stoot ons bult op.  Plek-plek rus ons teen die fietse, suig lou rooi koeldrank uit die botteltiet en kyk met gemengde gevoelens na die motors wat verby ry.

Au Plais de Langebaan met sy palmbome is ons oase en ons gasheer, ‘n Fransman, is beleefd, hulpvaardig en simpatiek.

Ek vind aanklank by die mens en dog dat ek iets van Duolingo kan inspan. Nie sonder rede het dog vere geplant nie. Ek Bon jour en Ça va bien, maar my tong knoop en ek struikel oor my lippe.

Jean was ‘n chauffeur in Parys maar die roetine was dodelik en te veel wette. Hy het ‘n Afrikaanse nooi getrou, met ‘n twee slaapkamer plekkie begin en later hier op Langebaan uitgebrei. Maar hier is min wette. Te min.

Ons is in kamer nommer 6. Ons kan vanaand saam Rugby kyk. Die Springbokke speel.

En wat dink jy van die Franse se kans teen die Bokke?

Hy tuit sy lippe en trek sy skouers op: Hoe laat wil ons ontbyt geniet?

Jacobsbaai

Dit is vandag ons dogter en aanstaande skoondogter se verjaarsdag en ons het vroeg na Jacobsbaai vertrek.

Maar eers moes ons proviand koop.

Jacobsbaai het nie groot kruidenierswarewinkels nie en die eerste paar kilometer in Langebaan is fiets vriendelik. Breë bane skep plek vir voetgangers en fietsryers en GoogleMaps  lei ons na die naaste Spar waar Frieda pasta, slaai, kaas wiggies, piesangs en Magnesium vir die krampe koop en ek buitekant met die fietse staan.

‘n Vodderige man kom uit die winkel, kyk skeef na my kant, gaan sit wydsbeen met geskeurde skoene en buig voor die flentertjie papier.  Die pienk rooi nommers word sorgvuldig omkring.

Wat droom die man?  Is hy Boethius in vodde? Het hy nog mense vir wie hy lief is, wat nog vir hom lief is?

Ons is anderkant Saldanha.

Daar is oomblikke wanneer die om-en-om ritme die siel losknoop. Dan wonder jy: oor die self en ander, Adam en Dawid, Jona en Augustinus,  Lemaître en Freud,  Wittgenstein en die kind met die breingewas, die vroutjie wat te veel drink, Oom Willie se snik, want  die Tannie onthou hom nie. Jy wonder oor stukkend wees en regmaak, goed en sleg, die waarvan en waarheen.

Komoot lei ons hier op ‘n smallerige paadjie en ons voel broos, blootgestel aan Scylla en Charibdis, tussen motoriste wat wyd jaag en rakelings verby skuur.  Dit is nie wat ons verwag het nie. Boonop is die vliegies en steekvlieë ‘n irritasie.

Drie kilometer van Jacobsbaai gebeur dit weer.  Die agterband.  Ons is pas by ‘n padstal verby en is dankbaar vir die paar honderd meter terug na die Karmenaadjie Padstal & Bistro.  Frieda vra water, koop vir ons yskoue Coke en ek gaan sit wydsbeen in die muur se koelte en soek-soek die lekplek.  Die buiteband het ‘n skeurtjie, dalk ‘n stukkie glas ( Suid-Afrika is plek-plek in skerwe).

Die lek is op dieselfde plek en ons plak ‘n stukkie rubber binne en buite, pomp die band styf en saal op.

Die lang afdraande na Jacobsbaai vlot goed en my gewoonlik versigtige eggenote laat die remme los; die wind streel ons wange en ons vaar Jacobsbaai met gelatenheid binne.

Dit is ons dogter en dogter in wording se verjaarsdag en ons het laat weet sodra ons afgepak het, vier ons die dag. Volgens die ruitverwysing is die gastehuis enkele stippel strepies ver,  maar ons is onseker en Frieda vra pad. 

Die dorp se Tuinier nooi ons om agter hom aan te ry en ons volg die wippende grassnyers, grawe en harke. ‘n Entjie later erken hy dat ons op ‘n dwaalweg is; die adres bestaan nie en tot óns verleentheid ontdek ons dat ons die huis en straatnommer agterstevoor om het.  

Frieda noem terloops die naam van ons gasvrou en droogweg verklaar ons gids:  hy weet presies wie dit is. Ons moes eerder die naam gegee het.

Dié keer lei hy ons tot by die voordeur.

Ons uitsig is wyd.  Teen die rantjies staan ‘n Weskus ‘plekkie’ met ‘n Volstruis wat teen die bult mik-mik en na die ander kant waaier die bietjies tuin met Rooi Papawers, Weskuspeule en Melkhoute.

Ons bly ‘n paar dae in Jacobsbaai oor en besluit later tot ons spyt om hier om te draai.  Behalwe dat die pad na Paternoster hoë risiko was, het die weerberigtoep gewaarsku dat reën en sterk winde voorlê.  Later sien ons ‘n mooi plaaspad wat van Karmenaadjie af strek en ‘n groot deel van die hoofpad vermy en die wind was toe van agter.

Ons pak af by ‘The Loft’,   marineer ons lywe in die bad en stap daarna deur die veldjie na die eetplek.

Pizza met vonkelwyn is aan die orde en met ‘n bottel uit Darling, ‘n paar skywe kaas en deeg en roomys met bessiesous vier ons ons kinders se lewe.

Ons vra die dame langsaan om ‘n foto te neem en lig die glasies, maar van iewers kom die weemoed en slaan sy arm om ons. Ons verlang en glimlag dapper.

Op pad terug loop ons deur die nabloei van Rooinaeltjies, Elandsvygies , Gousblomme en ander mooi.   Frieda loop voor en ek merk dat sy weerskante van die smal voetpaadjie trap en toe ek haar aanmoedig om liewers in die middel van die paadjie te loop, borrel die lag en ons vee ons trane in die wind af.

Die paar dae in Jacobsbaai wissel tussen perskepienk en appelkoos oranje. Snags fluit die wind om die skoorstene en ‘n uil kras by die bure. 

Strandlangs ontdek ons groen-gladde seewier tussen swart gepoetste klippe, borrie geel alge op mosbedekte rots, grys kronkel stamme met floksies groen en geel, Duinrose en swart haarwurms wat in die voetpaadjie konsertina. ‘n Engel in beton met blou en rooi glas druppels seën met oop arms die seë.

Honderde slymspoortjies lei na slakkies wat teen ‘n wit muur saam met rooi papawers en pers Laventelbosse in die son baai en iewers verloor ‘n kosbare geldnoot.

Tussendeur besoek ons Mamma Pixie se hawe vir feetjies.

Sy het ‘n droomland vir haar geskep en nooi ons binne.  Ons word kindertjies en ryg die kiekies en selfies in: onder ‘n varing loer enetjie met skrefies ogies en ‘n ander een boepens met bolwange en ‘n knobbelneus tussen pers blommetjies. Twee geel hekse kekkel in die skadu van ‘n rots en ‘n boomstomp knip oog terwyl sy varing baard grys vleg.

Die oggend, voor ons vertrek, neem ons ‘n foto van ‘n slakkie op pad na feëland en ons verbeelding gaan op galop.   Ons dink aan stories vir ons kleinkind.  Hoe Mamma Pixie jou toor as jy nie van haar moerbeibome eet nie en hoe vlinders nuus bring van die Feëkoningin.

Ons tyd loop uit.

Vir oulaas stap ons deur die veld na die strand en loop ons vas teen heinings wat in rooi waarsku dat dit privaat eiendom is. Ons draai om, kies koers na die naaste voetpaadjie en dan strand se kant toe.  Voor vurk die pad en na regs en tussen die vaal gras wapper ons verlore geldnoot.

Dit is ‘n goeie teken.

Terugtog

Die fietse is opgeslaan en als is gepak.  Langs Bloubergstrand soek ons na ‘n plekkie vir vonkelwyn en pizza en maak toe vrede met deeg en vis.

Terwyl  ons kelner die tafel met garnale en goue bier rangskik, dryf vragskepe in die baai en anderkant die muur soek smouse jou oë. Verder, seë in bont baljaar branderryers.

Dit is ons laaste dag.

Môre vier ons Krugerdag en hoop vir reën, maar voor dan moet die fietse en bagasie ingehandig word. Ons beleef weer goeie diens op die lughawe. Al is ons etlike ure vroeg, word ons tegemoetgekom en ons Uber na die Twee Oseane-akwarium

Ons bestuurder is ‘n Masjona, een van die net minder as 2.6 miljoen uit Zimbabwe wat hier kom nes skrop het.  Ons gesels oor die ‘Rooi brigade’ oor die verval en die korrupte politici terwyl ons verby ʼn halfklaar brug en krotte ry.  Die krom en skeef lap en karton weerkaats  in sierlike geboue.

Die Twee Oseane-akwarium is sprokiesmooi en bisar en in blou buise bo ons sweef haaie terwyl kindertjies, ouers en oppassers tussen stukkies oseaan wag, lag en hardloop. Die Jellievisse se swel-en-krimp herinner ons dat die diertjies en hulle klein nefies die helfte van die wêreld se  suurstof skep en ons koop ‘n blou hempie met ‘n Pikkewyn afdruk vir ons kleinseun. Iets prakties en mooi.

Na ‘n aanvanklike vertraging op Kaapstad Internasionaal land ons betyds op OR Tambo . Twee van die seuns wag met ‘n waentjie, spesiaal gehuur en ekstra lank.  Dit was ‘n uitdaging om die motor en wa tussen die spykers en hefbome pas; sommige mense het ligte geflits en ander het geduldig kans gegee.

Die keer pas alles en ons skuif reg en vertel: Van die Fransman in Langebaan en die Nederlanders wat uitgesluit was, van Rooi papawers en slakkies, feetjies en hekse tussen varings, die op en af, die stiltes en die branders, purper Jellievisse en Korhane wat oor die vlaktes roep

En hulle vertel: van troureëlings, huiskoop, eksamens en die Springbokke,  Ouboet wat meer man is en Sussa se skoolhou.  

Tussen die vertel, die dreunende bande en motorligte wat kol-kol pad wys, wonder ek: oor volgende jaar se verkiesing, gaan ons die kruisies reg trek; sal ek my kleinkind kan vertel van Cicero en feetjies, van ouer word en drome droom; en ek wonder oor haar hier langs my.

Sal ons onthou en soos nou, mekaar se hande vashou.

Christo & Frieda Pretorius

Oktober 2023

Stukkies genade

16 Junie 2019

Ons is vroeg in die saal op pad na Rotterdam, of net voor Rotterdam tussen die blomplase na ‘Het Boerderij Lansingerland’.

Dit was ons tweede kampplek.

Ons het met kollega, Drs Leun Geluk afgespreek dat ons so 10:00 in Rotterdam sal wees en hy het aangebied om ons na Ouddorp te neem en die voetspore van die stamvaders te volg.

Kort na middernag het die eerste druppels begin val.

Ons het gehoop dit is ‘n verbyskuur vlagie…dit was ‘n ydele hoop. 

Die hele nag deur het die druppels trom gespeel op die seil en vroeg-oggend het ons koud en klam begin om eers die binne-tent op te slaan.

Ons helderkleurige Mac-in-the-Sac’s was darem bestand teen die koue druppels wat dan en wan ‘n gaping kry en dan koud oor jou bors en maag giggel.

Ek het kollega Geluk laat weet dat ons nie betyds gaan wees nie en hier het ons vir die eerste keer ons roete aangepas. 

In plaas van kuslangs na Scheveningen te ry, kies ons die kortste pad deur Leiden na ons oornagplek.

Dit was ‘n beproewende rit.  Die selfoon se GPS gee nie onmiddellike lesings nie, met die gevolg dat ons ‘n dosyn keer of meer moes omdraai omdat ons ‘n afrit gemis het.

Boonop pla die reën.

Die tasblad van die foontjie word gebombardeer en met nat vingers en hande moet ek navigeer met die een hand en met die ander hand die swaar en ongebalanseerde belaaide fiets bestuur.

So het dit vir ‘n volle 35 kilometer gegaan en teen die einde moes ons nog steeds verdwaald iewers onder ‘n boom koers probeer kry.

Ek was moedeloos.

Frieda en Henco moeg en die onsekerheid het begin knaag.  Wat het my besiel? Hoe hanteer ons die ding?

Die vertroue in my vrou en kind se oë het my laat vasbyt.  Ek moet hulle veilig hou, kom wat wil.

Terwyl ek na die blou kompas pyltjie staar, stap ‘n middeljarige vrou verby.  Sy het seker die nood in my oë gesien en vriendelik vra sy: ‘Kan ik help? Waar gaat u?

‘Camping Lansingerland’ en ‘Ek praat Afrikaans, as u stadig Nederlands praat verstaan ek u.’

Het is leuk. Ik verstaat’

Dit is heel eenvoudig. Ry net hier af, dan regs, dan weer regs en dan links.

Só het genade oomblikke ons gestuur. 

Op die mees kritieke oomblik, by ‘n kruispunt, waar ’n bordjie of straatnaam dof of agter ‘n blaredos verdoesel is, het daar iets gebeur.  Iets wat ons hiernatoe gedruk het in plaas van daarna toe.

‘n Omie met ‘n blou oorpak wat langs die skool vriendelik glimlag en vra ‘Zoek’t je de Camping?’

‘Ja, ons doen’

Dis nie vêr nie. Draai net hiervoor links en dan regs.

Na ure se saalpolitiek ry ons deur die hekke van ‘Het Boerderij Lansingerland’.

Die beesmis walm wit en die grou lug weerkaats in die bruinblink waterplasse.

Ek stap die winkeltjie in met die rympie: ‘Ek is Christo Pretorius van Suid-Afrika. Kan ek met jou Afrikaans praat?

Die jong Hollandse dametjie is vriendelik en weet dadelik van ons bespreking. Hulle het ons verwag.

Terwyl ek die besonderhede kry stap die baas van die plaas in.  Hy sal ons na die kampplek toe neem.  Hy praat ‘n swaarder Nederlands en ek begryp hier en daar. 

Hy is nie ouer as 40 jaar nie.

Oorkant die winkeltjie en die moderne melkstal, waarna jy deur ‘n groot venster kan kyk, is ‘n paar huisies en voor een van hulle staan die eienaar se fiets. 

Hy ontsluit die fiets, spring op en wink ons agterna.

Ons ry weer uit by die plaas en draai regs.

‘n Entjie verder draai ons af en binne ‘n 100 meter hou ons stil.   Luukse woonwaens en RV’s staan in rye.  Die ablusie geriewe is netjies en nuut en aan die oorkant staan nog ‘n groen tentjie.

Ons kan hier kamp dui hy aan en ons sê dankie.

Het ons elektrisiteit nodig?

Ek vra asseblief, ons wil ons selfone laai; dié noodsaaklike oorlewingsmiddel op die pad. 

Dit is goed, word verklaar, maar het ons ‘n kabel?

Nee, sê ek. Ons reis lig en het nie plek vir ‘n kabel nie.

Geen probleem nie.

Hy vra ek moet saam stap na die vierkantige ablusie blok en daar diep hy ‘n rooi kabel op.

Terug na die kampplek, word alles ingeprop en afgerol tot by die tent. 

Môre-oggend kan ek maar net die kabel weer oprol en in die stoorkamer laat.

Ek knik kop. 

Waarheen is ons op pad, vra hy?

Na Basel, Switserland sê ek moedig.

Dit kan nie. Weet julle van koekoes?

Ja, ons weet van dit, maar ek dink nie ons is al daar nie.

Na ons gasheer vertrek, gooi ons die grondseiltjie uit. Ons tweede nag breek aan.

Ons slaan die tent op, blaas die matrasse en kussings op en Frieda haal die gasstofie uit.

Vir die volgende dae was pasta ons stapelvoedsel. 

Ek was pootuit.  Die aanpassing was groot en my selfvertroue aan skerwe. 

Ons het geëet, heerlik gaan stort onder ‘n standhoudende en warm stort wat ons nie 50 Europese sent kos nie en het geluister na die woelinge; ‘n funksie by die restaurant so 800 meter verder.

Dit was nog vroeg.

Drs. Geluk het laat weet hy gaan ons 20:00 vir koffie kom haal en ek laat weet dankie, ons waardeer dit, maar hulle moet asb. aanvaar as ons nie beter as fietsryers geklee is nie.

Intussen fiets ek terug na die Ontvangs en die restaurantjie. 

Die eienaar het ons genooi om die ‘wiefie’ te gebruik. Terwyl ek eenkant alleen sit en aan die kinders berigte stuur, stap netjies geklede gaste na agter.  Die musiek trek wyd oor die weilande en ek beny die sin vir gemeenskap, die sorgvrye en gemaklike lewensgang.

Net na 20:00 het kollega Geluk met sy Volvo oor die graspolle tot voor die tentjie gekruie.

Ek het drs. Geluk ‘n paar jaar gelede ontmoet toe hy in Suid-Afrika kom kuier het.  Maar hy was al as jongman ‘n vriend van die Afrikaner en die Hervormde Kerk. 

In die middel-70’s het hy prof Ben Engelbrecht vergesel op ‘n besoek deur Nederland.

Toe het prof Ben nog probeer om die Nederlandse Hervormde Kerk te oortuig van die Kerk se goeie bedoelings en die kompleksiteite van Suid-Afrika en sy volke verduidelik, maar toe wou hulle nie luister nie.

Dit het nie gehelp nie.  Prof Ben het sy wedervaringe neergeskryf en ek het daarin sy waardering vir ds. Geluk raak gelees.

Ons het twee boeke as geskenke vir ds. Geluk en sy eggenote, Wilma saamgebring en was aan die eenkant bly dat ons van die gewig kon verminder.

Fietslangs is dit maar 3 km na die Geluks, maar padlangs is dit ‘n wye draai.

Ek sit voor in die luukse Volvo met my skree-oranje baadjie en Frieda agter met haar pienke.  Henco luister groot oog na die Nederlands-Afrikaanse gesprek.

Hier waar ons nou ry, vertel ds. Geluk, was net landerye en plase.

Ek kyk na die groen bos en die lowerryke dieptes.

Die boere het die landerye ongedaan gemaak en nou leef ons so en ons is hier vêr onder seevlak, as die dyke breek, spoel die see tot hier.  

Hier, en Ds Geluk wys met sy hand na links, word ‘n snelweg gebou.  Dit gaan onder deur die kanale.

Ons vleg deur die nou geplaveide straatjies en skouerskurende ry-huisies. Dit is helder lig en net voor 21:00 toe ons by die pastorie stilhou.

Mev Geluk is vriendelik en deftig.

Ons stap in en in die voorportaal staan ds. Geluk opsy, haal twee hangers uit die jas kas en vra of hy ons skel oranje en pienk baadjies kan neem.

Ek en Frieda se beleefd nee dankie, ons het net die Afrifietser T-hemde onderaan en kry koud.  Van moegheid is ons ook broos. 

Ds Geluk wag geduldig met ‘n hanger in elke hand, maar ons glimlag vriendelik en pleeg ‘n growwe onbeleefdheid.

Die huis is keurig en netjies.

Mev Geluk stel die termostaat op en ons gaan sit in die fyn gemeubileerde sitkamer  met ‘n stoepie buitekant.

Pers, geel en oranje blomme versier die geplaveide stoepie.

Mev Geluk bied ons ‘n koppie koffie aan en ‘n soet dingetjie. 

Ek en Ds Geluk klets.

Of eerder ek gesels oor Suid-Afrika, oor die grondonteiening en die plaasmoorde, oor ons taalstryd en planne om ons kultuur en menswees te beskerm. Oor die worsteling van die kerk en die vrysinnigheid wat kop uitsteek.

Ds Geluk luister geduldig.

Hier is Mandela ‘n god, het hy vroeër terloops verklaar.

En ek dink aan die vreemdheid van ‘n Afrikanerbuurt en Transvaalstraat wat net hier anderkant Rotterdam is en later – toe ons met die veerboot oor die Ij-rivier na Amsterdam vaar sien ons op die oorkantse wal die Mandela-bar en die LGBTQ-vlag wat in die wind flap. 

Met die uitbreek en gang van die Tweede Vryheidsoorlog van 1899 tot 1902 het hier ‘n gans ander gees geheers. 

Toe die ou grote, Staatspresident Paul Kruger, hier vir ‘n klein volkie kom smeek teen die Britse boelie, het geesdrif orals geborrel en die diplomate, politici en invloedrykes het saam met die volk hande geklap, die Vierkleur gewapper en formele etes is gevier met heildronke; prysliedere en lofsange is gesing terwyl die ou President geboë na die gedruis van staande ovasies en toejuiging geluister het.

En dit was al.

In die 70’s het dit verander in woede en haat teen die groot onreg, die ‘sonde teen die mensdom.’

Die knuppel teen die Afrikaner is goed ingelê.

My gedagtes wip na die boek van die Jerusalemse historikus, Yuval Noah Harrarri . Homo Deus – die mens-god.

Harrari beluister ek met ‘n knypie sout, maar ander luister met oorgawe en iets van wat hy sê maak sin.

Iewers sê hy dat die mens streef na of betekenis of mag en invloed.

Godsdiens gee betekenis en wil orden, maar in die plek van die godsdienste van die wêreld het die mens ‘n nuwe godsdiens geskep: Humanisme.

Die mens word die norm van alles; alles wat die mens voel en dink en waardeer is die maatstaf van sin. 

Ek glimlag skeef vir sy beskrywing van dit wat tipies menslik is: die afsplintering, die sekte vorming, want Harrari onderskei tussen die liberale humanisme, die sosialistiese humanisme en die evolusionêre humanisme.

Wat het dit te doen met ‘n veerboot oor die Ij-rivier in 2019?

Waarom het ons stamland teen ons gedraai en die ‘muishond van die wêreld ‘ gemaak. Waarom word ons taal en bestaan verketter?

Harrari lei verder:

Die eerste vorm van humanisme – die liberalisme was in die moeilikheid. 

Na die Tweede Wêreldoorlog was dit Marx, Stalin en Lenin se sosialistiese humanisme wat die bo-toon gevoer het en dit het die bo-toon gevoer omdat dit die tegnologie van toe effektief ingespan het.

Die weste het in sy hoekie gewoel met sy yskaste, kitsoplossings en ‘n paar vreemde vennote.

Toe was die Weste die muishond, die kapitalistiese-kolonialis wat Afrika en die Ooste uitgebuit het.

Vir die Weste was dit nie ‘n maklike tyd nie.  Die Sowjet-unie en sy kamerade was die kampvegter vir die onderdruktes, die advokaat vir selfbeskikking en nasionalisme.

Kruschev het toe nogal verklaar, met vertroue, dat die Kommunisme oor die graf van die Weste sal loop.

Hier het ons gedink ‘tuislande’ sal vryheid beteken, maar ander het dit ‘apartheid’ genoem en kwaadwilliglik met Nazisme gelyk gestel.

Die weste (ja, ook die Amerikaanse suide met hulle segregasie) kon toe die vaandel optel as die kampvegter vir die onderdruktes teen die Kommuniste.

Soos Goethe, die wetenskaplike en skrywer, dromer en realis iewers dit so opsom: ‘…soms dans die duiwels in die hemel en buig die engele in die hel!’

Dit word laat. 

Ek het ds. Geluk vroeër gevra of hy kaarte het, want die toeps is nie voldoende nie. 

Hy bring ‘n paar kaarte van Duitsland wat eerder vir motoriste geskik is.  Ek aanvaar die een kaart, maar die ander sal nie deug nie.

My moed sak in my skoene.  Ek het so gehoop dat hy die nodige het. 

Ons gebruik  fietsknoopkaarte, verklaar hy.

Dit is die eerste keer dat ek hiervan hoor en ek skep moed.

Nederland is verbind met knooppunte. Skryf net die nommers neer en volg die fietsknope.

Hy het ongelukkig nie van die kaarte nie.

Dit raak laat en ons wys ‘n tweede koppie koffie van die hand en ds. Geluk neem ons terug na ons kampeerplek.

Die moegheid spoel in vlae oor my en ons kruip in. 

Henco het dadelik aan die slaap geraak. Dit was die onbesorgde slaap van die jeug.

Langs my het Frieda ook stadig en diep begin asemhaal.

Ek het na die tentdak gestaar. 

Naald prikkies het oor my vel gekruip.

Teen dié tempo en met die middele gaan ons dit nie maak nie.  Frieda het wakker geword. 

Môre is ons maak of breek dag. Ek gaan ‘n ander toeps probeer en die stem aanwysings. Ons moet net seker maak albei battery pakke is vol gelaai, want as die selfoon nou die gees gee, staan ons tussen niks en nêrens nie en dan sal ons by ‘n biblioteek of motorhawe die selfone moet laai. Dit gaan nog meer tyd neem.’ Die volgende dag is dit na Camping Zennewijnen naby Ophemert

Vertrek

Ons sit net agter die regtervlerk van KLM se Boeing. 

14 & 15 Junie 2019

Henco sit langs die venster, Frieda in die middel en ek sit met dankbaarheid in die gang met my linkerbeen uitgestrek onder die voorste sitplek. 

Dit help vir die bietjie rumatiek.

Ons are borrel en maag is vol vlinders. Die reis lê voor en oor tien en ‘n bietjie ure sal ons Amsterdam inval.

Net voor middernag verdwyn Johannesburg se kronkelende liggies agter die wasigheid en later dreunstamp ons kilometers vêr bo Botswana, die Kongo, Sahara en die Middelandse seë.

Maar voor die rustige dreungang het ons eers ons onsie stres gehad. 

Enige reis gaan gepaard met baie beplanning en ‘n bietjie chaos.

Maar niemand het ons gewaarsku dat die verhoudings nie eweredig is nie: ‘n Bietjie chaos lei tot baie meer ongemak as baie voorbereiding.

En ons het voorberei.

Weke lank het ek You Tube, Google Maps en Amazon se boeke deurgekam; Toepse afgelaai met kaarte en roetes en met die hulp van ‘n Excel spreiblad beplan met besprekings, kilometers en waar en wanneer ons moes wees. Elkeen in sy eie kolom en ry. Netjies. Geboks.

Op WhatsApp het ek met KLM se mense gepraat en gevra:  Kan ons ons fietse neem? Ja, maar dit kos 200 Euro per fiets!

Waaat!  Maar dit is dan deel van die bagasie?

Nee, helaas dit is nie.

Maar Qatar en ander doen dit so!

Helaas, nee en omdat die kaartjies reeds gekoop en fietse huur net so duur is, haal ek maar Visa uit en deponeer die fietsgeld.

Mensdom.  Besef die klomp Hollanders nie dat hulle ons ‘n klomp ander goed ontneem nie.

Maar soos kollega Stephan Hoffman in Giessenburg later droogweg opmerk:  ‘Jy weet die Indiërs is bekend vir hulle onderhandelingsvermoë en het ‘n kop vir besigheid,’ en ek knik my kop, ‘maar weet jy by wie het hulle dit geleer?’

Ek skud my kop en frons ‘n vraag.

‘By die Hollanders. Hierdie mense weet hoe om besigheid te doen!’

Ek beaam stadig op en af en dink aan die gat wat hulle in my sak brand.

Maar dan kyk ek na ons jongste se glinsterende oë en die opgewondenheid op my liewe vrou se gesig en ek maak daarmee vrede. 

Van die begin af het ek my getroos met die mantra: ‘Onthou, vir geld kan altyd gewerk word, maar jou tyd raak op.’

Ek moes die rympie later ‘n hele paar maal herhaal en my dit maak glo.

Veral toe ons by Johannesburg lughawe aanmeld met die fietse geboksendaais en met die instap gee die beampte ‘n skewe kyk en lewer toe uitspraak: ‘It is too bieeg. It won’t fit.’

Maar KLM het die mates gestuur, kyk hier’, en ek flits die WhatsApp boodskap en my betaalbewys.

It doesn’t maatter. KLM isn’t on the ground!’

Ek slaan toe maar oor in my beste ongrammatikale Sepedi:  ‘Thusa, hle, Mme. Ke kgopela. Re ya ka Amsterdam mme Batho ba KLM ba re, re ka bea bicycle ka boxo yo’.

Ek sien hoe haar hart vermurwe en voel ‘n bietjie sleg as ek so met hartstaal mors.

Maar dié hart gaan op ‘n skrefie oop en sy slenterstap na die manne en die manne stap na ons en kyk eers die dan daai kant na die gekartonde fietse.

We can take it, but you must make it smaller.’

Smaller? Nyane!?’, vra ek verdwaas.

Hoe maak ek drie fietsbokse op Johannesburg se lughawe kleiner?

Maar hartstaal loop sy eie pad.

Soos Mnr Mandela dit gesê het: Praat met iemand ‘n taal, dan praat jy met sy kop; praat in sy taal, dan praat jy met sy hart.

Die verpakkers wat oppad was om te tjaila sien die Boertjie se dilemma en soos mes pak drie manne, later vyf, die kartonne; pluk die skerpste paddaslagters uit en met ‘n kirrts en garrts, baie selofaan en R600 se plastiek is die bokse kleiner, toegedraai en ons liewe Mosadi knik haar kop adellik.

We’ll take it!’

Die verbygangers en ander passasiers het intussen gemaak geduldig gewag en simpatiek geglimlag vir die fiasko hier voor hulle.

Maar dit is klaar en die fietse is gelaai.

Hier eindig dit nie, want om ruimte en gewig te spaar dra ons van die fiets sakke as handbagasie en die handvatseltassie word oor die skouers gegooi.

Frieda is eerste deur die sekuriteitshekke, dan volg ons jongste en ek is laaste.

Alles verloop glad en ek is redelik in my skik, maar Frieda is verontwaardig, want die sekuriteitswag het haar gereedskapstel gekonfiskeer.

Maar dit is net Allen-keys en skroewedraaiertjies,’ en sy dit laat klink asof dit deel is van ‘n grimeertassie.

Dink hulle nou regtig ek gaan hulle met dit aanval!?’

En ek dink hoe dwaas kan mense wees. 

As hulle my liewe vrou ken, sou hulle die kop skud en die stukkies gereedskap verleë terugbesorg.

Tien en ‘n bietjie ure later skuur die bande op Schiphol en ons slaak ‘n sug van verligting toe die fietse heelhuids by die spesiale bagasie-afdeling vir ons wag.

Terwyl Frieda die sakke uit en inpak, takel ek en Henco die fietse en sit bymekaar wat bymekaar hoort. 

Schiphol aanmekaar sit.

En dit is waar die genade begin. Subtiel. Saggies.

Koerskry na De Wulp

Dit is hier waar ideale, drome en werklikheid ontmoet en ‘n eie karakter aan ‘n reis gee. Jou siel word uitgespit, omgedop en met nuwe saad besaai.

Allereers het die kaarte en toepassing nie ‘n gladde pad gewaarborg nie. 

Met selfoon in die hand het ons agter die pyltjie aan koers ingeslaan.

Ons eerste kampeerplek was Camping De Wulp. ‘n Skrale 27 kilometer ver. Maar my onbekendheid met die toeps en die gaping tussen werklikheid en ideaal lei tot amper 4 ure later. 

Maar Banke weet hoe om jou Rande te vis.

Moeg, gefrustreerd en ontsenu het ons uiteindelik die kampeerplek gekry. 

Ek was seker die kampering is betaal, maar die blonde Hollandse ontvangsdame wys dat slegs 8 Euro’s betaal is. Dit kan nie.

Ons het ten duurste vanaf Montana, Pretoria die 25 Euro’s betaal en nog ekstra vir die oorbetaal.

Ek troos my dat ek die Euro’s net voor die verkiesing aangekoop het, want net daarna het die Rand in vryval gegaan.

Maar terug by Camping De Wulp

Dit is ‘n klipgooi van die Noordsee, in Noordwijk. 

Ek en Frieda het die buurt verken; na die Noordsee gery, later koers gevat en ons voete in die sand gaan druk.

Hier het ons ‘n foto’tjie van die sandduine geneem.

Die vaalgroen gras het voor die wind gebuig en na ‘n rukkie na ons groen en oranje tentjie terug gefiets.

Vir die volgende 18 dae is dit ons huis.

Deur die newels van moegheid het die omgewing begin deursypel.

Die fietsroetes en fietspaaie is met sorg beplan en gebou. Dit kronkel deur groen woude, strek verby tipies Nederlandse huisies en tussen groen en geel lappe koring, hawer en mielielande.

Ook verby die industriële gebiede langs die Waal-, die Maas- en die Ryn-rivier waar enorme staalblink pypkonstruksies vir gas, brandstof en chemikalieë paaie vleg.

Die son sak eers na 10:00 nm en teen 11:00 nm lyk dit eerder na sonsopkoms as ondergang en vroeg-oggend, hier teen 4:00 vm. se kant lyk dit asof die son net vinnig ‘n uiltjie knip voor dit weer uitbars.

Met dié lang dae word tot laat gewerk en gefiets en gedraf, rolskaatse gery en gras gesny. Die Nederlanders en die Duitsers het ons gevind, is sportiewe mense.

Maar hier vind ons ook dat die mense anders geaard is.

Vriendelik, beleefd, wetsgehoorsaam en professioneel.

Maar ook anders.

Ons hunker na die ou verbintenis, na die heliks van ons gisters.

My gedagtes vleg deur die eeue. Terug na my stamvaders, my voorgangers. 

Hier iewers kon die jong teologiese student Joannes Praetorius saam met studentevriende stap, roei, seil of op die gevriesde kanale ge-yskaats.

Dit was voor hy aan ‘n optog in Amsterdam deelgeneem het, daarop geskors is, by die VOC aangesluit het en in 1666 na Mauritius vertrek.

Vandaar het hy na die Kaap van Goeie Hoop gespring en die naelstring in Afrika laat oprank.

Later, in die laaste dae van ons reis het ek in Amsterdam voor die Koninklike paleis gaan staan, in Heerengracht deurgevleg – vernoem na die Here XVII van die VOC – en gewonder wat is in die notules oor die student gesê?  En wat van sy Pa, my Voor-oupa wat Hervormde Dominees in Ouddorp was. 

Wat het hy te sê gehad oor die nasaat van Wessel Schout wat in die 13e eeu iewers in Bentheim die bure en vriende genooi het om te kom feesvier terwyl hulle dak bou?

Ja, ons deel menswees, deel gisters.

Maar ons is ‘n ander loot. Van Afrika.

Carl Jung sê dit so: Alle mense is soos alle mense. Sommige is soos sommige en ek is soos niemand nie. Ons eenders én anders.

Wanneer ons tussen 6 en 7 ure elke dag ritmies die pedale op-en-af trap en die kilometers op die dyke en polders kou, word dit deel van die gedagtes.

Ek weet dit is mý sien en dink en doen. En natuurlik word dit gesif deur die somtotaal van my gister, vandag en môre. Dit kan nie anders nie. 

‘n Mens is wat jy leef en wil.

En ‘n reis is ook beleef: indrukke, sketse, beelde en ontmoetings flits verby en knoop alles aanmekaar.

Hier leer ons:

Die lewe word nie gelos nie.

Jy sien dit aan die lanings langs die fietspaaie.

Orde.

Bome groei nie sommer nie. 

Weerskante van die stammetjies word pale ingekap en met bande en rekke word dit gelei om kiertsregop skadu’s oor die geteerde of geplaveide fietspaaie te gooi.

En diereliefhebbers moet hare op hulle tande hê, want die hondjies word glo almal met ‘n mikroskyfie gemerk sodat die nodige outoriteite jou verpligte twee daaglikse stappies kan monitor.

Mens en dier is goed gekondisioneer. 

Die een weet wanneer om waar besigheid te doen en die dametjie of heer aan die punt van die leiband buk elegant, tel die wasemrige hopie met die sakkie op, knoop dit toe en wandel koninklik verder agter die dierevriend aan met die toegestoomde brakpakkie.

Nederland is ‘n klein landjie, alles is omtrent twee ure se ry met ‘n motor bereikbaar en die totale omtrek is sowat 1027 kilometer. 

Baaaie minder as Suid-Afrika se meer as 4862 kilometer.

Maar hier word gewerk.  Selfdoen. Self werk. Langs die dyke, in die polders dreun die trekkertjies terwyl die gras gesny word.

Tussen Giessenburg en Nieuwveen, ek dink dit was die dorpie Lekkerkerk, het ‘n dame van seker naby 80 jaar oud die  blokkie gras voor haar huisie met sorg gesny.

Skeef en mankerig het sy die masjientjie hierna en dan daarnatoe getango.

Wanneer begin ‘n reis?

IMG_20181007_195000_794

In Travels with Charley sê John Steinbeck dat ‘n reis soms begin voordat jy begin en eindig voordat jy eindig.

Dit is woorde wat maal en vrae los klop soos: Wanneer en waar begin ‘n reis? En reis jy om by ‘n plek te kom of om net oppad te wees? Reis jy om weg te kom? Net om te ontdek, sê iemand iewers, jy vat jouself altyd saam!

My eerste reise was saam met Thor Heyerdahl in die Kontiki Expedition en daarna het ons die eiland Fatu Hiva besoek.

Daar, tussen wiegende Palmbome en groen varings, het hy vir sy bruid ‘n bad in ‘n bruisende waterval gebou; heeldag gekyk hoe ‘n spinnekop eers ‘n draadjie in die niet laat hang en wag totdat die wind dit teen ‘n takkie vaswaai en toe nog ‘n ankerdraatjie laat hang en gewag en wag en toe die web tussenin gespin.

En geluister – na die dreuning van die branders teen die rotse wat kleiner en kleiner breek totdat dit tussen sandkorrels sug.

Ek kon ander reise aanpak saam met Theroux en Scott en Hemingway se Moveable Feast.

En met Erik Holm se Inseklopedie en Gogga-gids die wêreld van insekte betree – waar die Doodshoofmot se fluit die byekorf verlam sodat dit heuning kan steel.

Of Eugene Marais se Siel van die Mier en Burgers van die Berge; die mistieke en misterieuse gang in die Groot Verlange en Die Plaag van ‘n swerwer.

Daar was baie ander saam met wie ek kon reis. Hulle wag hier… geduldig.

Ek wens ek kon elkeen aan jou voorstel…maar dit is beter as jy self kennis maak.

Terwyl jy kennis maak, gun my ook om jou die hand te reik.

IMG-20181007-WA0036

Ek is Christo Pretorius, my reismaat is Frieda en ons is Afrifietsers.

Ons droom om die wêreld deur te reis en in Afrikaans hieroor te praat.

Eersdaags skop ons ‘n grote af, die voorportaal of inleiding van wat ons hoop een van baie sal wees.

Vanjaar (2019) in Junie reis ons per fiets en saam met ons jongste na Amsterdam in Nederland en dan met die Ryn langs tot in Basel, Switzerland.

img_20190516_105453_4477979774582444648651.jpg

Met ons bietjie pakkasie, ‘n klomp dapperheid en ‘n skeutjie onkundigheid hoop ons om die speke te laat sing en met die wind van agter ‘n reis en ‘n half kaf te draf.

Hartlike groete,

Christo & Frieda

#afrifietsers