
Vertrek
Die Fortuner se luikrugsensor is nie gelukkig met die twee kartonhouers wat halfmas uithang en die rooi nylon tou wat alles bymekaar moet hou nie.
Ons is op pad na Johannesburg lughawe vir ons derde fietsreis.
Dié keer trap ons ‘n paar skofte langs die Weskus vanaf Bloubergstrand, via Yzerfontein, Langebaan en Jacobsbaai na Paternoster.
Maar, eers moet ons betyds wees vir Airlink se vlug na die Moederstad en ons dogter se kêrel se moeder karwei ons soontoe.
In die weke vooraf is die kartonhouers gemeet en geweeg en alle aanduidings was dat die fietse en bagasie sal pas.
Toe nie.
Tyd vir ‘n waentjie huur of ander planne is daar nie en nadat ons foto’s van die vrag neem, dwarrel ons lughawe toe.
Teen die wind in vra ek Frieda wat ons besiel, kap ons nie ‘n dik boom met ‘n klein byltjie nie, maar my woorde waai weg.
Ons hoor toenemend woorde soos My Oom en Tannie, tekens dat ons verder van die vyftigs af beweeg en ons het begrip. Ons het kinders groot gemaak, laat leer, van hulle getrou en verwag ons eerste kleinkind.
Die gemeenskap verwag ook van middeljariges ‘n portuurpatroon, ‘n dekorum en ons hoor al daarvan by Cicero se jong gespreksgenote 44 jaar voor Christus. In daardie jaar, toe Julius Caesar die gees moes gee, oortuig Cato die Ouere in De Senectute die jongeres dat ouer word voordele het soos: ervaring, geduld, goeie vriendskappe en ‘n sopie wyn wanneer jy wil.
Ons is nog nie hééltemal daar nie, want geduld skiet tekort, veral wanneer ons soos bulle uit Pamplona met kartonhouers wat oor die trollie weglê ‘n pad na die lugredery oop kloof.
Ek moet my hoed lig vir Airlink se personeel; die fietse is deel van die bagasie en tot tien fietse kan op die Embraer E-Jet 195 / B737 gelaai word. Met ‘n vorige redery het ons skade gely, toe moes ons deur Helshoogte en verby Pniel voordat ons op Franschoek ‘n ratskyf kon reguit buig.
Hier is dit anders, hier is begrip vir fietsers en in plaas van stres krop die opwinding.
Nuwe horisonne en nuus oor die swangerskap voer ons die hoogtes in en in vlug sou die kinders iewers in Pretoria ‘n sonar neem, laat weet of alles goed gaan en of ons vir ‘n kleindogter of kleinseun gereed moet maak.
Toe Tafelberg in die venster kantel en ná die rukwip op die aanloopbaan kruie ons verby antennas en stoppelgras. Ons is net duime en boonop is ons Skoondogter ‘n terggees wat ons om die bos lei.
Die tweede boodskap trek die sluier weg en terwyl ons met ons koppe bymekaar na die kloppende hartjie luister, wink die toekoms in swart en wit.
Uber laat weet dat ‘n ekstra groot voertuig om die draai is en dat Thakirr ons kom haal.
Ons slaag daarin om die bagasie en die fietse te laai, maar daar is net plek vir een passasier. My bruid moet op haar eentjie ry.
Op pad vertel Thakirr van sy Pa se geëelte hande en die familiegeskiedenis. Antonie se gat anderkant Calitzdorp is deel daarvan. Antonie, lees ek later, het die owerhede met ‘n roer gedwing om ‘n pad en brug oor sy plaas te bou en deesdae gaan mense daarlangs om Antonie se ysere wil te bewonder.
Ek luister met ‘n halwe oor terwyl ek my wederhelf Whatsapp: ‘Waar is julle nou? Neem foto’s!’
Thakirr ry ‘n ander pad.

Vroue met honger oë staan op straat en op ‘n hoek kring manne om ‘n paar bottels terwyl ‘n bebaarde bo-oor die flitsende vangwa vloeke spoeg.
Tussen die tonele flits foto’s: Tafelberg, ‘n betonbrug, drie Palmbome, en ‘n lemoenson wat agter vragskepe in die baai sak. Van iewers stuur sy beelde van presies waar sy is.
Na Silwerstroom
Komoot se roete kronkel na Melkbosstrand en verby Koeberg na Silwerstroom.
Die vorige aand by ‘Laid Back Lapa’ het Kerry ons met sorg ontvang. Na die afpak is die fietse aanmekaar gesit en terwyl die swart huiskonyn aan die rooi Ortliebs snuffel, weeg en balanseer ons, ons blyplek, kombuis en gereedskap vir die volgende 10 dae.
Kaapstad doen goed.
Hier klop ‘n pols vir fietsers en van Bloubergstrand tot in Melkbosstrand strek ‘n breë fietspad tussen seë en land. Kol-kol lê die sand bleek tussen die donkergroen bossies en daartussen bloei Disas, Gousblomme en Reëndaisies.

Seë se kant toe kras Gryskopmeeue en tussen die duine fladder en roep ‘n Swartvlerkkorhaan.
By Melkbosstrand draai die roete na die R27 en anderkant Koeberg sou ons vir ʼn rukkie kuslangs ry, maar Covid het sy merk gemaak. Die afdraai is gesluit en anderkant die zoemende kabels strek die R27 na Silwerstroom.
Van die onguurste nagte het ons daar beleef en die volgende oggend met ‘n swaarbewolkte gemoed, pofferige oë en reën van voor suiker ons na Yzerfontein.

Met ons nooiensvaart in Nederland en Duitsland vyf jaar gelede was ons verwonderd oor die fietskultuur en het later ontdek dat nóg reën, nóg wind en sneeu ‘n remblok vir Nederlanders is. Húlle is nie van suiker gemaak nie. Ons het toe ook kennis gemaak met Knoopkaarte en die Eurovelo-netwerk.
Laasgenoemde se roetes kriskras van Denemarke na Georgië, oor wolk bedekte plato’s in Spanje, tussen Bordeaux se wingerde en langs die Ryn. Ons het toe die Eurovelo 10 gevolg en droom al om saam met Claudio Magris langs die Donau spore te maak of met Adventure Cycling se kaarte saam met Swaer en Sus gletsermere en dennewoude in Banff en Oregon te verken.
Chat GPT bereken dat die valuta van fietstoerisme internasionaal 116,73 biljoen dollar beloop dit is R1,750,950,000,000.00. ‘n Bedrag waarmee selfs politici tevrede behoort te wees, of hoe sê?
In vergelyking met Europa en die VSA is ons groentjies, soos ek en Frieda, maar daar is ervare fietsreisigers wat die horisonne uit pen. Reisigers soos Johan Wahl van a.whale.away wie se SAND roete deur die internasionale bikepacking.com platform gepubliseer is en Bicycle south en Cape Cycle Roetes is ook besig om speke te laat sing.
Yzerfontein.
By die Sport- en ontspanningsklub op Yzerfontein laat ons die staalperde vasgeketting in die Munisipaliteit se kampeerterrein en geniet ‘n pluspunt van fietsreis: gewetelose kalorieë. ‘n Reuse burger, duimdik skyfies, yskoue vatbier, ‘n wit strand en bruisende golwe rond die dag af.
Iemand se 70 jaar word langsaan gevier en dat hulle vir haar lief is klink in die hiep-hiep hoera’s en die gewoel van kinders en kleinkinders.
Ons volgende skof strek van Yzerfontein, deur die Weskus Nasionale park na Langebaan.

Dit is ‘n soeldag en die wind waaier om ons. ‘n Entjie vorentoe peil ‘n arend op die pad af en ons trap verby morseltjies – dalk ‘n Musseljaatkat. Platgetrap, soos die uiltjie ‘n entjie terug; net ‘n handvol vere.
Die motors skel verby en na ‘n 18 kilometer draai ons dankbaar links na die Weskus nasionale park waar ons pligtelik tussen ‘n nutsvoertuig en Taxi voor die suidelike hek wag.
Op die min of meer 28 km na Langebaan treusel ons en hou stil vir skilpadjies en vygies, staar oor die duine en snuif die seelug, tuimel teen afdraandes en speel met die ratte teen die oppies, terwyl suikerbekkies piep en Korhane roep. Nou en dan klap ons ‘n steekvlieg kaduks.
Met die terugtog ‘n paar dae later sou ons vroegoggend op ‘n koel en bewolkte dag ‘n ander kant sien van die pad. Spinnerakke wat om stingels drup; sommige sferies, ordelik en ander gestikte chaos.
By Geelbek voël uitkyk, sluk ons onder bloekombome aan ‘n proteïen skommel, kou energie stafies en smeer sonbrandmiddel. ‘n Patrys spring nuuskierig op, fynkam die tafel en spring af toe twee jong dames nader stap; een is opgewonde en die ander een stil, terughoudend.
Die fietse met goetertjies en toetertjies trek aandag en sy vertel van háár tog, agt dae lank en stoksielalleen deur die Sederberge. Sy wil ander paaie ry, saam met die stil enetjie.
Langebaan
Langebaan is om die draai. Tot dusver het ons langsaam getrap, maar net anderkant Geelbek trap Frieda stadiger en hou stil.

Die agterband is pap; vir ‘n tweede maal. Ek is sommer dwars en Frieda stil. Ons pak af, dop om, plak en pomp.
‘n Paartjie hou stil en laat weet hulle het ‘n ‘compressor’ en op my binnensmondse ‘Fenk you. Wiir fine’, antwoord die jongman, ‘Goed, Oom!’ en ons knik vir mekaar.
Van hier af vlot dit en voor ons lê ‘n wit sandsoompie lepel met die blou-groen meer en vertes. Ons haal diep asem, wag ‘n rukkie saam met die eeue en luister na die geruis.
Langebaan is nou ‘n katspoegie ver en die binneband hou.

Komoot teken grafieke, vertoon kilometers afgelê en kilometers wat voorlê en die hoogtetjie wat wag. Soos met Franschoekpas, die Hemel en aarde roete van Johannes Georg Steytler stap en stoot ons bult op. Plek-plek rus ons teen die fietse, suig lou rooi koeldrank uit die botteltiet en kyk met gemengde gevoelens na die motors wat verby ry.
Au Plais de Langebaan met sy palmbome is ons oase en ons gasheer, ‘n Fransman, is beleefd, hulpvaardig en simpatiek.
Ek vind aanklank by die mens en dog dat ek iets van Duolingo kan inspan. Nie sonder rede het dog vere geplant nie. Ek Bon jour en Ça va bien, maar my tong knoop en ek struikel oor my lippe.
Jean was ‘n chauffeur in Parys maar die roetine was dodelik en te veel wette. Hy het ‘n Afrikaanse nooi getrou, met ‘n twee slaapkamer plekkie begin en later hier op Langebaan uitgebrei. Maar hier is min wette. Te min.
Ons is in kamer nommer 6. Ons kan vanaand saam Rugby kyk. Die Springbokke speel.
En wat dink jy van die Franse se kans teen die Bokke?
Hy tuit sy lippe en trek sy skouers op: Hoe laat wil ons ontbyt geniet?
Jacobsbaai

Dit is vandag ons dogter en aanstaande skoondogter se verjaarsdag en ons het vroeg na Jacobsbaai vertrek.
Maar eers moes ons proviand koop.
Jacobsbaai het nie groot kruidenierswarewinkels nie en die eerste paar kilometer in Langebaan is fiets vriendelik. Breë bane skep plek vir voetgangers en fietsryers en GoogleMaps lei ons na die naaste Spar waar Frieda pasta, slaai, kaas wiggies, piesangs en Magnesium vir die krampe koop en ek buitekant met die fietse staan.
‘n Vodderige man kom uit die winkel, kyk skeef na my kant, gaan sit wydsbeen met geskeurde skoene en buig voor die flentertjie papier. Die pienk rooi nommers word sorgvuldig omkring.
Wat droom die man? Is hy Boethius in vodde? Het hy nog mense vir wie hy lief is, wat nog vir hom lief is?

Ons is anderkant Saldanha.
Daar is oomblikke wanneer die om-en-om ritme die siel losknoop. Dan wonder jy: oor die self en ander, Adam en Dawid, Jona en Augustinus, Lemaître en Freud, Wittgenstein en die kind met die breingewas, die vroutjie wat te veel drink, Oom Willie se snik, want die Tannie onthou hom nie. Jy wonder oor stukkend wees en regmaak, goed en sleg, die waarvan en waarheen.
Komoot lei ons hier op ‘n smallerige paadjie en ons voel broos, blootgestel aan Scylla en Charibdis, tussen motoriste wat wyd jaag en rakelings verby skuur. Dit is nie wat ons verwag het nie. Boonop is die vliegies en steekvlieë ‘n irritasie.
Drie kilometer van Jacobsbaai gebeur dit weer. Die agterband. Ons is pas by ‘n padstal verby en is dankbaar vir die paar honderd meter terug na die Karmenaadjie Padstal & Bistro. Frieda vra water, koop vir ons yskoue Coke en ek gaan sit wydsbeen in die muur se koelte en soek-soek die lekplek. Die buiteband het ‘n skeurtjie, dalk ‘n stukkie glas ( Suid-Afrika is plek-plek in skerwe).
Die lek is op dieselfde plek en ons plak ‘n stukkie rubber binne en buite, pomp die band styf en saal op.

Die lang afdraande na Jacobsbaai vlot goed en my gewoonlik versigtige eggenote laat die remme los; die wind streel ons wange en ons vaar Jacobsbaai met gelatenheid binne.

Dit is ons dogter en dogter in wording se verjaarsdag en ons het laat weet sodra ons afgepak het, vier ons die dag. Volgens die ruitverwysing is die gastehuis enkele stippel strepies ver, maar ons is onseker en Frieda vra pad.
Die dorp se Tuinier nooi ons om agter hom aan te ry en ons volg die wippende grassnyers, grawe en harke. ‘n Entjie later erken hy dat ons op ‘n dwaalweg is; die adres bestaan nie en tot óns verleentheid ontdek ons dat ons die huis en straatnommer agterstevoor om het.

Frieda noem terloops die naam van ons gasvrou en droogweg verklaar ons gids: hy weet presies wie dit is. Ons moes eerder die naam gegee het.
Dié keer lei hy ons tot by die voordeur.
Ons uitsig is wyd. Teen die rantjies staan ‘n Weskus ‘plekkie’ met ‘n Volstruis wat teen die bult mik-mik en na die ander kant waaier die bietjies tuin met Rooi Papawers, Weskuspeule en Melkhoute.
Ons bly ‘n paar dae in Jacobsbaai oor en besluit later tot ons spyt om hier om te draai. Behalwe dat die pad na Paternoster hoë risiko was, het die weerberigtoep gewaarsku dat reën en sterk winde voorlê. Later sien ons ‘n mooi plaaspad wat van Karmenaadjie af strek en ‘n groot deel van die hoofpad vermy en die wind was toe van agter.
Ons pak af by ‘The Loft’, marineer ons lywe in die bad en stap daarna deur die veldjie na die eetplek.

Pizza met vonkelwyn is aan die orde en met ‘n bottel uit Darling, ‘n paar skywe kaas en deeg en roomys met bessiesous vier ons ons kinders se lewe.
Ons vra die dame langsaan om ‘n foto te neem en lig die glasies, maar van iewers kom die weemoed en slaan sy arm om ons. Ons verlang en glimlag dapper.
Op pad terug loop ons deur die nabloei van Rooinaeltjies, Elandsvygies , Gousblomme en ander mooi. Frieda loop voor en ek merk dat sy weerskante van die smal voetpaadjie trap en toe ek haar aanmoedig om liewers in die middel van die paadjie te loop, borrel die lag en ons vee ons trane in die wind af.

Die paar dae in Jacobsbaai wissel tussen perskepienk en appelkoos oranje. Snags fluit die wind om die skoorstene en ‘n uil kras by die bure.
Strandlangs ontdek ons groen-gladde seewier tussen swart gepoetste klippe, borrie geel alge op mosbedekte rots, grys kronkel stamme met floksies groen en geel, Duinrose en swart haarwurms wat in die voetpaadjie konsertina. ‘n Engel in beton met blou en rooi glas druppels seën met oop arms die seë.
Honderde slymspoortjies lei na slakkies wat teen ‘n wit muur saam met rooi papawers en pers Laventelbosse in die son baai en iewers verloor ‘n kosbare geldnoot.
Tussendeur besoek ons Mamma Pixie se hawe vir feetjies.

Sy het ‘n droomland vir haar geskep en nooi ons binne. Ons word kindertjies en ryg die kiekies en selfies in: onder ‘n varing loer enetjie met skrefies ogies en ‘n ander een boepens met bolwange en ‘n knobbelneus tussen pers blommetjies. Twee geel hekse kekkel in die skadu van ‘n rots en ‘n boomstomp knip oog terwyl sy varing baard grys vleg.
Die oggend, voor ons vertrek, neem ons ‘n foto van ‘n slakkie op pad na feëland en ons verbeelding gaan op galop. Ons dink aan stories vir ons kleinkind. Hoe Mamma Pixie jou toor as jy nie van haar moerbeibome eet nie en hoe vlinders nuus bring van die Feëkoningin.
Ons tyd loop uit.
Vir oulaas stap ons deur die veld na die strand en loop ons vas teen heinings wat in rooi waarsku dat dit privaat eiendom is. Ons draai om, kies koers na die naaste voetpaadjie en dan strand se kant toe. Voor vurk die pad en na regs en tussen die vaal gras wapper ons verlore geldnoot.
Dit is ‘n goeie teken.
Terugtog

Die fietse is opgeslaan en als is gepak. Langs Bloubergstrand soek ons na ‘n plekkie vir vonkelwyn en pizza en maak toe vrede met deeg en vis.
Terwyl ons kelner die tafel met garnale en goue bier rangskik, dryf vragskepe in die baai en anderkant die muur soek smouse jou oë. Verder, seë in bont baljaar branderryers.
Dit is ons laaste dag.


Môre vier ons Krugerdag en hoop vir reën, maar voor dan moet die fietse en bagasie ingehandig word. Ons beleef weer goeie diens op die lughawe. Al is ons etlike ure vroeg, word ons tegemoetgekom en ons Uber na die Twee Oseane-akwarium
Ons bestuurder is ‘n Masjona, een van die net minder as 2.6 miljoen uit Zimbabwe wat hier kom nes skrop het. Ons gesels oor die ‘Rooi brigade’ oor die verval en die korrupte politici terwyl ons verby ʼn halfklaar brug en krotte ry. Die krom en skeef lap en karton weerkaats in sierlike geboue.

Die Twee Oseane-akwarium is sprokiesmooi en bisar en in blou buise bo ons sweef haaie terwyl kindertjies, ouers en oppassers tussen stukkies oseaan wag, lag en hardloop. Die Jellievisse se swel-en-krimp herinner ons dat die diertjies en hulle klein nefies die helfte van die wêreld se suurstof skep en ons koop ‘n blou hempie met ‘n Pikkewyn afdruk vir ons kleinseun. Iets prakties en mooi.
Na ‘n aanvanklike vertraging op Kaapstad Internasionaal land ons betyds op OR Tambo . Twee van die seuns wag met ‘n waentjie, spesiaal gehuur en ekstra lank. Dit was ‘n uitdaging om die motor en wa tussen die spykers en hefbome pas; sommige mense het ligte geflits en ander het geduldig kans gegee.

Die keer pas alles en ons skuif reg en vertel: Van die Fransman in Langebaan en die Nederlanders wat uitgesluit was, van Rooi papawers en slakkies, feetjies en hekse tussen varings, die op en af, die stiltes en die branders, purper Jellievisse en Korhane wat oor die vlaktes roep
En hulle vertel: van troureëlings, huiskoop, eksamens en die Springbokke, Ouboet wat meer man is en Sussa se skoolhou.
Tussen die vertel, die dreunende bande en motorligte wat kol-kol pad wys, wonder ek: oor volgende jaar se verkiesing, gaan ons die kruisies reg trek; sal ek my kleinkind kan vertel van Cicero en feetjies, van ouer word en drome droom; en ek wonder oor haar hier langs my.
Sal ons onthou en soos nou, mekaar se hande vashou.
Christo & Frieda Pretorius
Oktober 2023




















